Hier’s ek weer, hier’s ek weer…

Ok na ‘n laaaang hiatus is ek weer reg om nuttelose inligting te deel met absoluut niemand nie, behalwe myself.  Ek het die laaste ruk weer ‘n paar blogs gelees en die heel tyd het ek hierdie gedagte in my agterkop: Ek wil ôk!  So hier is ek weer en die keer wil ek bietjie meer fokus op die kwaliteit wat ek hier deel.

Ek sien my laaste post was oor herfs wat begin, en wil jy nou meer dit is al klaar lente!  Die beste tyd van die jaar om in Pretoria te wees.  Gister het ek deur Brooklyn gery met ‘n idiotiese glimlag op my gesig.  Die mense wat verby my gery het, het sekerlik gedink ek is effe spesiaal.  Maar hoe kan jy deur gange Jakarandas ry sonder om soos ‘n aap te smile!  Dit is pragtig!  Ek wil die kinders dalk die naweek op ‘n Jakaranda toer vat deur Brooklyn.

Hierdie naweek is die eerste naweek in ‘n baie lang tyd wat ons niks op die kalender het nie.  So ek gaan rustig die kaste bietjie regpak, die stad verken en natuurlik ‘n gin of twee geniet.  Dalk kry ek ‘n paar dinge om oor te blog…

 

Forseer jouself om uit te sien na Herfs

Ek moet bieg.  Ek is die tipiese mens wat van die somer hou.  Lang, lui dae in die son met ‘n gin in die hand.  Wat meer wil mens hê?  So wanneer ek sien dat die bome kaal begin raak en voel hoe my vel krioel van die droogte in die lug, dan raak ek sommer depressief.  Alles stink na stof en my wasgoed raak al hoe meer elke week.  Ek probeer om nie so negatief te wees nie (een van my nuwejaars voornemings vir die afgelope 4 jaar), maar ‘n huppel in my stap kom nie natuurlik nie.  Daar is ‘n paar dinge wat ek die jaar gaan probeer om myself te forseer om die herfs te geniet.

Koop Kerse

Ek gaan die jaar my huis in ‘n Rooms Katolieke Kerk verander deur elke aand kerse aan te steek om atmosfeer te skep.  ‘n Regte Pinterest Herfs huis in volle glorie.  Een ding wat my ma my geleer het net voor my troue is dat ‘n vrou die atmosfeer in die huis skep.  As Mamma die dag mislik van die werk af kom, gaan Pappa en die kinders met frons gesiggies volg.  As Mamma Desember die kersversierings uit te garage kry en die huis laat lyk soos enige kitch 80’s Suid Afrikaanse huis, kompleet met helder blink goeters wat hang en fake sneeu wanneer dit naby 40ºC buite is, dan is die kinders en Pappa in ‘n feestelike bui.  Daarom gaan ek die jaar ‘n lekker rustige, cosy atmosfeer skep, soos dit die herfs betaam, met lekker ruik kerse oral in en om die huis.  Ook nie sommer enige kerse en enige reuk nie.  Regte herfs reuke soos kaneel, vanielje en senderwood.  Ek het die lekkerste kers by Mr Price Home gekry – Night Orchid.  Ek is mal oor Mr Price se kerse, hulle het ‘n groot verskeidenheid en is redelik goedkoop so ek voel nie jammer om hulle elke aand te brand nie.

https://www.mrphome.com/en_za/fragranced-pillar-candle-7×7-5cm-7201016442

Rustige klanke

Spotify is onlangs in Suid Afrika vrygestel.  Op die oomblik is dit nog net op Android beskikbaar.  Daar is blykbaar oor die 300 miljoen liedjies beskikbaar op Spotify en vir net R59.99 per maand kan jy jou eie playlists maak en dit enige tyd offline luister.  Deesdae in die aande wanneer almal begin rustig raak, kos klaar, kombuis skoon, sal ek rustige musiek op Spotify soek en deur die huis speel.  Almal raak rustig en bed tyd vir die kinders raak baie minder stresvol vir mamma!  Ek is veral lief vir The White Buffalo en die Your Favorite Coffeehouse playlist.  Dit skep werklik ‘n rustige atmosfeer in die huis.

Verander jou velsorg roetine

Ek kan al klaar agterkom dat die droër seisoen oppad is aan my vel, hare en veral my oë.  Dit voel of iemand elke oggend my oë met ‘n wolkombers uitgevee het.  Mens moet jou velsorg roetine dikwels drasties verander van somer na winter.  Ek het nog nie hiermee begin nie, maar ek gaan bietjie soek na ‘n lekker velsorg olie wat en in die aande onder my nagroom kan gebruik.  Ek gaan ook vir my ‘n meer intens treatment moet kry vir my hare en ek is juis besig om elke aand en elke oggend oogdruppels te gebruik.  Laat weet gerus van enige lekker anti-ageing of revitalising olies op die mark.

Bak, bak, bak

Ek is in die bui om lekker beskuit te bak vir die koue oggende saam ‘n sterk koppie koffie.  Ek weet nie van jou nie, maar vrek die beskuit in die winkels is AAKLIG en proe na niks.  Die enigste beskuit wat ek dalk nog sal oorweeg is Woolies se Ayrshire Buttermilk Bran Rusks.  Jy breek nie jou tande as jy dit probeer hap sonder om dit in koffie te dunk nie, en dit is vreeslik lekker.  Maar ek wil graag ‘n lekker All Bran beskuit resep uit probeer die jaar.  Ek sal dit deel as dit ‘n sukses is.  Op daardie noot, trek sommer weer die slow cooker ook nader.

http://www.woolworths.co.za/store/prod/Food/Food-Cupboard/Biscuits-Rusks-Crackers/Rusks/Ayrshire-Buttermilk-Bran-Rusks-350g/_/A-20005269

 

Ons is nie so gelukkig soos die Amerikaners wat in Herfs kan uitsien na lekker dinge soos Halloween of Pumpkin Pie Alles nie, so ons moet maar ons eie tradisies skep in die koue maande.  Baie min van ons besit ‘n kaggel in die huis en ons het redelik baie immergroen bome, so die mooi bruin en roes tapyt van herfsblare is ook nie vir ons beskore nie.   Maar ons het wel ander trots Suid Afrikaanse herfs kentekens.  Ry net een Sondag middag deur die Vrystaat of Noord Wes om al die mooi Kosmos langs die pad te sien.  Dit is werklik pragtig.  Steek ‘n kers aan, maak briyani, lê op die bank met ‘n lekker gesig masker.  Herfs is die tyd om te ontspan!

xxx

Chaotiese Groete

Talita

 

 

Top 5 Boeke OOIT! (tot dusver)

Soos voorheen genoem is ek ‘n regte boekwurm.  Saam die werk, kinders en die feit dat ek van nature ‘n lui mens is, kom ek nie altyd daarby uit om boeke te verorber soos wat ek regtig wil nie.  Maar ek moet sê in die laaste paar jaar het ek die geleentheid gekry om van die beste boeke ooit te lees.  Ek is nie iemand vir ‘n “Soppy Love Story” nie.  Ek hou van die tipe boek wat jou laat dink, iets wat jou uitkyk op die wêreld so bietjie verander.

Dit gaan vir my baie moeilik wees om net 5 boeke te kies, maar hier is dit in geen spesifieke volgorde:

1.  The Nightingale – Kristin Hannah

Image result for the nightingale

Ek is ‘n regte Historical Fiction Fan en stories oor die Tweede Wêreldoorlog fassineer my!  Hierdie boek het so reg in my verkose genre geval.  Die storie vertel van twee vroue wat nie noodwending besonderse lewens lei nie, maar wat deur omstandighede gedwing word om besonderse en gevaarlike dinge te doen.  Dit speel af in Frankryk in die tyd wat Nazi Duitsland Frankryk verower het.  Hierdie boeiende verhaal het my laat lag, huil en nagte laat wakker lê en dink.  Kristin Hannah het ‘n manier om karakters te skep wat ware heldinne is, maar met menslike gevoelens en optredes.  Defnitief die moeite werd om die boek ‘n kans te gee.

2.  Kennis van die Aand – André P. Brink

Image result for kennis van die aand

Waar om te begin!  Hierdie boek is lank, moeilik om te lees en nog moeiliker om te verstaan, maar O wee!  Dit is een van die min “love stories” wat my aandag gevang het en wat my altyd sal bybly.  Kennis van die Aand is gepubliseer in die tyd wat die Afrikaner regering nie leesstof van hierdie aard geduld het nie en dus was die boek verbied in Suid Afrika.  Later is daar ingestem dat die boek wel verkoop kan word maar dat dit duidelik moet aandui dat die boek ‘n ouderdomsbeperking van 18 moet hê.  Natuurlik maak dit my net meer geinterresseerd om die boek te lees!  Hierdie is die verhaal van ‘n bruin man wat op ‘n wit, Engelse meisie verlief raak in ‘n tyd wat dit ongehoord is.  Die keuses wat die karakters maak is dom dog passievol en alle verhoudings in die boek is kompleks en interressant.  André P. Brink vertel ‘n ding soos hy is, maar in die suiwerste Afrikaans.

3.  All the Light We Cannot See – Anthony Doerr

All the Light We Cannot SeeJa, jy is heeltamaal reg, my Top 5 boeke gaan basies almal oor WWII.  Wat kan ek sê, ek het ‘n obsessie.  Ek probeer nog verstaan hoe een man ‘n hele nasie kan oortuig dat sy waansinnige dade en woorde die weg en die waarheid is.  All the Light We Cannot See speel basies af in twee afsonderlike dele wat alles verstrengel is.  Aan die een kant het jy ‘n blinde Franse meisie wat saam haar Oom gaan bly aan die Noordelike kus van Frankryk wanneer die Nazi’s dreigend aan Parys se deur kom klop.  Aan die ander kant is ‘n Duitse seun wees gelaat en moet hy noodgedwonge saamveg in ‘n oorlog waarvan hy nie heeltemal oortuig is nie.  ‘n Hartverskeurende storie met die spookagtige klankbaan van Debussy se Clair de Lune waarna daar gedurig verwys word.  Ek kon dood eenvoudig hierdie boek nie neersit nie!

4.  ‘n Droë Wit Seisoen – André P. Brink

'n Droë Wit Seisoen

En as dit nie WWII is nie dan is dit André P. Brink.  Hierdie man het ‘n manier met woorde!  Ek was 10 in 1994 so ek kan glad nie getuig van die jare voor dit wat ons land ‘n land van wrokke gemaak het nie, maar hierdie boek het my oë oopgemaak vir ten minste ‘n klein deel daarvan.  Ek was grootgemaak in ‘n middelklas, Afrikaanse huishouding en ons het nie geweet van (of ons eerder blindgestaar aan) die dinge wat besig was om te gebeur nie.  Die hoofkarakter in hierdie boek het self nie werklik die omvang van Suid Afrika in die laat 70’s vroeë 80’s verstaan nie, totdat dit by sy eie voordeur kom aanklop.  Ek sal hierdie boek aan elke Afrikaner aanbeveel!

5.  The Book Thief – Markus Zusak

The Book Thief

Teen die tyd is The Book Thief ‘n storie wat meeste mense ken.  Natuurlik ook afgespeel in Duitsland gedurende die oorlog.  Dit is ‘n vreeslike mooi storie van mense wat saamstaan in moeilike tye en vriendskappe wat gevorm word wat blywend sal bly.  Liesel Meminger word in die pleegsorg geplaas van die liefste Omie en sy nors vrou.  Sy vind haar groot liefde – boeke.  Al kan sy nog nie werklik lees nie begin sy stuk stuk boeke steel by elke geleentheid wat sy kry.  Die storie het egter minder te doen met boeke steel en meer met die sukkel bestaan van middelklas Duitsers sonder mag of enige manier van opstand teen hul eie korrupte regering.  Die verhoudings tussen karakters is die hart van die verhaal en die les is dat empatie vrees oorheers.

 

Daar het jy dit.  ‘n Paar “honorable mentions”: The Girl on the Train –  Paula Hawkins; Gone Girl – Gillian Flynn; Susters van Eva – Daleen Matthee.  Gaan loer gerus op Goodreads na die beskrywings van elkeen van hierdie boeke.  My beskrywings hier was suiwer emosioneel.  Laat weet gerus watter boeke jou Top 5 maak!

Met die deur in die huis val

Ek sien myself as ‘n kreatiewe denker en tog sit ek 8 ure per dag in ‘n kantoor voor ‘n rekenaar en trek verslae.  Ugh!  So, om te verhoed dat ek my kop verloor begin ek hierdie blog.  Ek is nie ‘n skrywer nie.  Ek het skaars gemiddeld gedoen op skool met boring opstelle, en ja ek meng my tale want dis hoe ons praat!  My blogs gaan in gewone, slegte Afrikaans gedoen word, met ‘n paar spel- en grammatika foute (of spel en grammatika foute??)

Ek is ‘n mamma van 3 en ‘n vrou van een,  maar dit is ook nie al wat ek is nie.  Ek is FANATIES oor lees (veral Historial Fiction); ek het lekker vriendinne; ek hou van Gin; in my vorige, jonger lewe was ek ‘n skoonheidsterapeut; en soms, net soms, probeer ek bietjie gesonder lewe.  Al hierdie goedjies sal ek hier noem in hopelik gereelde blog posts.  So as jy belangstel, lees gerus verder.  As my taal en skryfwyse jou irriteer, gaan lees iets anders.

FB_IMG_1520933849896_resized